Stellenbosch Municipality

deur Stephanie Nieuwoudt

 

Het jy geweet jy kan voor die stadsaal en van die sypaadjies in Stellenbosch groente pluk?

Voor die stadsaal is houtkratte met kruie en groente en so ook op die middelmannetjie en sypaadjie by die kruising van Ryneveld en Pleinstraat. Ook op Strandstraat en op die R314, verby Distell is groente.

Hierdie is ʼn projek waarmee die uitvoerende burgemeester, Raadsheer Conrad Sidego hoop om vir meer mense in die dorp maklike toegang tot kos te bied.

En dan is daar die 24 gemeenskapsgroentetuine in plekke soos Idasvallei, Groendal, Pniel, Kayamandi en die Jan Marais-park.

 

In Idasvallei is daar ten minste drie arm gesinne wie se daaglikse maaltye grootliks uit hierdie tuin kom.

Die eerste groentetuin is in 2013 onder leiding van Sidego aangeplant.

“Ondanks die geweldige welvaart in Stellenbosch, word 28% van ons inwoners deur voedselsonsekerheid geteister. Hulle weet nie waar hulle hul volgende maaltyd gaan kry nie. Tientalle mense het danksy die groentetuine kos,” sê Sidego. “Dit dra daartoe by dat hulle ʼn meer waardige bestaan kan voer.”

Ook verskeie organisasies word gehelp.

“Ons verskaf gereeld groente aan onder meer Voedingsaksie – wat vir sowat 5000 mense kos gee, Safe House – ʼn veilige hawe vir vroue, die nagskuiling op die dorp, die kliniek in Cloetesville en ʼn dagsorgsentrum in Kylemore,” sê raadslid Pietman Retief, Burgemeesterskomiteelid vir omgewingsake.

“Hierdie is iets waarby die hele gemeenskap moet baat vind,” sê Sidego.

Die Stellenbosch Munisipaliteit het ʼn kwekery by Beltana op die Helshoogte-pad waar jong plantjies gekweek en sade geoes word wat weer in die gemeenskapstuine geplant word.

Deidreé Baartman, ʼn nagraadse student aan die Universiteit Stellenbosch, sê sy pluk elke naweek vir haar groete in en voor die stadsaal kry sy kruie.

“Ek is regtig beïndruk dat die Munisipaliteit se werkers gereeld besig is om die beddings skoon te maak en dat hulle elke seisoen nuwe groente plant. My troetelhaas is ook dankbaar. Hy kry al die blare wat as oorskiet oorbly nadat ek my ete gemaak het.”

2