Stellenbosch Municipality

deur Stephanie Nieuwoudt

 

Ons kan net werklik bewus raak van die uitdagings van gestremdheid as daar groter ondersteuning en begrip vanuit ons eie gemeenskappe is vir mense met gestremdhed.

So het raadslid Martin Smuts, onder-burgemeester van Stellenbosch Donderdag (15 Oktober) in die stadsaal by die opening van die Let’s Talk About Disability ekspo gesê. ’n Uitstalling en lesings deur kundiges van die Stellenbosch Disability Network is Donderdag en Vrydag gehou. Die gemeenskap is genooi om ook by die lesings hul insette te lewer. Die munisipaliteit is een van die stigterslede van hierdie netwerk.

Smuts het gesê die munisipaliteit het die afgelope twee jaar ’n doelbewuste poging aangewend om die gesprek oor gestremdheid oop te maak. Dit sluit in bewusmaking en kortprogramme, die totstandkoming van die Stellenbosch Disability Network, logistieke ondersteuning aan die netwerk en ’n gestremdheidsbeleid wat eersdaags vir openbare terugvoer voorgelê sal word. Daar is ook ’n omvattende verslag wat op geriewe en infrastruktuur van toepassing is.

Foto: ‘n Aantal mense wat by die Stellenbosch Munisipaliteit betrokke is, het die Let’s Talk About Disability ekspo en lesings bygewoon. Agter:  Rdsl A Frazenburg (portefeulje: gemeenskapsontwikkeling), rdsl Martin Smuts (Onder-burgemeester BM), Cindy Wigget-Barnard (Helderberg APD en voorsitter van die Stellenbosch Disability Netwerk.)

Voor: Portia Jansen (Koördineerder: Gemeenskapsontwikkeling, Stellenbosch Munisipaliteit), Michelle Aalbers (bestuurder: gemeenskapsontwikkeling), Fiona Kruywagen (Administratiewe Ondersteuning: Gemeenskapsontwikkeling).

Volgens Smuts is die groter Stellenbosch-gebied die tuiste van meer as 8000 mense wat op een of ander wyse gestrem is.

Vanessa Japhta van Inclusive Education South Africa, het in ʼn praatjie gesê daar is meer as 600 000 kinders met gestremdhede in die land. ’n Groot aantal van hulle is nie op skool nie.

“Hulle word van gewone skole weggewys en daar is dikwels weens verskeie redes nie by skole vir kinders met spesiale behoeftes vir hulle plek nie,” het Japhta gesê.

“Dit is nie die gestremde kind se verantwoordelikheid om by die skool aan te pas nie. Dit is die verantwoordelikheid van die skool om die kind te help. Daar is ook ’n wanpersepsie dat mense wat gestremd is, nie is staat is om te leer nie. Dit is onwaar. Maar ’n mens kan ook nie alle mense wat gestremd is op dieselfde wyse behandel nie. ”

Sy het bygevoeg kinders wat vir lank weg van die huis by spesiale skole is, sukkel later, wanneer hul skoolopleiding voltooi is, om aan te pas by die gemeenskap waaruit hulle kom. ”

Me Adri Wyngaardt van Cloetesville het die uitstalling saam met haar seun, Adrian (23) bygewoon.

“Adrian het Down se Sindroom. Ek weet nie hoe om hom by die huis besig te hou nie. Hy sit net heeldag. Ek hoop om hier bietjie kennis te kry oor hoe ek hom beter kan help,” het sy gesê .

Volgens Wyngaardt kan Adrian nie praat nie. “Maar ek verstaan hom wanneer hy probeer om iets te sê. Ek dink hierdie ekspo en lesings is baie belangrik om groter bewustheid van gestremdheid te kweek. Dit laat ander mense beter besef wat die omvang van die uitdagings is.”

2