Stellenbosch Municipality

Deur Stephanie Nieuwoudt

 

Daar word te veel voorwerpe weggegooi wat maklik in kontant of bruikbare voorwerpe omskep kan word.

So het mnr Mario van Niekerk van Cloetesville onlangs gesê nadat hy die Prasa Aanvangskursus in Entrepreneurskap voltooi het. Die kursus is verlede week in samewerking met die Stellenbosch Munisipaliteit aangebied. Van Niekerk het gesê hy het vaardighede geleer wat hom sal help om ekonomiese geleenthede uit weggooigoed te skep.

“As mense in die gemeenskap besef dat hulle geld kan kry vir herwinbare rommel sal ons woonplekke ook skoner wees,” het hy gesê.

Hoewel breë entrepreneuskapsvaardighede met hierdie kursus oorgedra is, was die klem onder meer ook op hoe om sakegeleenthede in rommel te identifiseer.

Phumlani Mzaba (25) van Kayamandi glo doeltreffende bestuur van vullis dra by tot ’n meer volhoubare omgewing en land.

“Stortingsterreine is besig om vinnig vol te raak. Deur herwinning kan ons sorg dat daar minder vullis op hierdie terreine beland. As ons vullis goed bestuur, dra dit by tot ’n gesonder omgewing. Ek wil my eie onderneming begin en sodoende vir ander mense werk skep, “sê hierdie jongman wat reeds ook ’n kwalifikasie in grafiese ontwerp het.

Vuyo Ngijima, van Kayamandi sê daar is groot onkunde in die gemeenskap oor waarom dit belangrik is om gebiede rondom woonplekke skoon te hou.

By die oorhandiging van die sertifikate aan mense wat die Prasa Aanvangskursus in Entrepreneurskap voltooi het: Van agter links is: Thulani Mokoena, Patrick Jacob Rooi, rdsl Aldridge Frazenburg (Burgemeesterskomiteelid: sosiale ontwikkeling van die Stellenbosch Munisipaliteit), langs hom rdsl Sophie Louw (Burgemeesterskomiteelid: plaaslike ekonomiese ontwikkeling), agter Louw is Mario van Niekerk, Ursula Henneberry (operasionale bestuurder van Prasa en kursusleier), Cecil Barnes (van Prasa), rdsl Donovan Joubert (Burgemeesterskomiteelid: ingenieursdienste), Malibongwe Gebhu, Charlotte Cronjé (hoof-tegnikus: afvalbestuur en -verwydering) en Judith Molutsoane. Voor van links is Sefeke Molutsoane, Maureen Mbola, Phumlani Mtabe, Vuyo Mgijima en Lindikhaya Nogwaza.

“Ons het bewusmakingsveldtogte nodig sodat mense kan verstaan dit skep allerlei gesondheidsprobleme as vullis net sommer op enige plek gestort word. Dit is ook belangrik om te besef daar is geld te maak uit herwinbare weggooigoed.”

Volgens Ursula Henneberry, operasionele direkteur van Prasa en aanbieder van die kursus, word 3 kubieke meter stortingsterrein “gespaar” wanneer 1 ton papier herwin word.

“Herwinning is die enigste soort onderneming waaruit jy geld kan verdien sonder om eers kontant uit te gee. Jy kan eenvoudig bottels, plastiek of metaal optel en dit verruil vir kontant.”

Raadsheer Conrad Sidego, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, sê die dorp het entrepreneurs uit alle vlakke van die samelewing nodig.

“Herwinning bied geleentheid nie net om geld te verdien nie, maar dra ook grootliks daartoe by om ’n gebied skoon en netjies te hou. Mense hoef egter nie regstreeks rommel te verruil vir kontant nie. Miljoene mense wêreldwyd verdien ook ’n inkomste deur kunswerke, juweliersware en allerlei versierings uit rommel te maak. Ek glo mense is innoverende wesens wat ook hier in Stellenbosch toenemend skeppend sal dink oor rommel en hoe dit op verskeie maniere omskep kan word in bruikbare voorwerpe.”

Wanneer vullis ophoop, hou dit verskeie nadele in. Dit lok rotte wat siektes kan versprei; verrottende produkte kan skadelike gasse vrystel wat tot allerlei asemhalingsprobleme kan lei, verrottende vullis kan grondwater besoedel, vullis kan in riviere opeindig wat tot grootskaalse waterbesoedeling kan lei, geleenthede vir toerisme bly in die slag omdat toeriste nie graag vuil plekke wat sleg ruik wil besoek nie.

2