Stellenbosch Municipality

Deur: Stephanie Nieuwoudt

Die teenwoordigheid van opgeleide motorwagte help om misdaad in die gebied waar hulle werksaam is te bekamp. Om misdaad nog verder hok te slaan, beoog die Stellenbosch Munisipaliteit om eersdaags te begin met die opleiding van nog sowat 20 mense om in die sentrale sakegebied diens te doen.

So het Quintin Smit, raadslid van die Stellenbosch Munisipaliteit wat gemoeid is met openbare veiligheid Donderdag (30 Julie) gesê. Hy het gepraat by ʼn kwartaallikse vergadering van die Stellenbosch Veiligheidsinisiatief (SSI) wat bygewoon is deur rolspelers in die veiligheid- en sekuriteitsvelde. Dit sluit in buurtwagte, private veiligheidsmaatskappye, munisipale wetstoepassers, die Universiteit Stellenbosch se veiligheidsdienste en die polisie.

“Opleiding behels onder meer dat wagte geleer word hoe om lede van die publiek te benader en hoe om hul rol aan buitelandse besoekers te verduidelik,” het Smit gesê. “Hulle is waardevolle rolspelers in misdaadbekamping.”

Smit het kommer uitgespreek oor die toename in diefstal uit motors.

“Veral studente loop deur. Mense laat eiendom soos selfone, rekenaars en klere binne sig in die motor en dit lok diewe om ruite te breek en die voorwerpe te steel.’’

Kol Nelson Govender het gesê die gemeenskap “skep geleenthede vir misdadigers deur voorwerpe binne sig in hul motors te los”.

Smit het gewaarsku teen onopgeleide mense wat sonder amptelike erkenning as motorwagte optree. Hierdie mense dra soms by tot die voorkoms van misdaad en verkoop onder meer dwelms en is by ander oortredings betrokke.

Die deelnemers het gewaarsku dat Stellenbossers nie vir rondlopers en bedelaars geld of kos moet gee nie. Van hulle is onder meer betrokke by sakerollery en ander klein misdade.

Tussen 7 April en 20 Junie vanjaar is 31 arrestasies vir diefstal uit motors gemaak. Dit is ʼn 46% toename vergeleke met die voorafgaande drie maande van vanjaar. Daar was 76 arrestasies vir die besit van dwelms, 20 vir handel in dwelms, 640 vir minder ernstige misdaad, 42 vir inbraak, 10 vir motordiefstal, 35 vir roof, 4 vir moord en 43 vir huisbraak .

2