Stellenbosch Municipality

Bome in ‘mooiste lelikste’ straat hef buurt op

Deur: Stephanie Nieuwoudt

Vind die lelikste straat in Groendal, Franschhoek.

Dit was so ’n paar maande gelede die opdrag van Conrad Sidego, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch. Mnr Gerald Esau, bestuurder: gemeenskapsdienste van die munisipaliteit Stellenbosch het La Provencestraat in Groendal, Franschhoek geïdentifiseer. In hierdie straat het vullis oral in die straat gelê en graffiti het die mure ontsier. Op die sypaadjies was daar bykans geen teken van boom of plant nie.

Die volgende opdrag van Sidego was dat bome in hierdie straat geplant moes word. En van 18 tot 21 Mei vanjaar het ’n span mense van die Stellenbosch Munisipaliteit en lede van die gemeenskap ingespring en 950 bome en sowat 3000 blomplante geplant. Vullis is ook uit die strate en sypaadjies en aan die walle van die Krommerivier verwyder. Digby die water is die gebied van ongewenste plantegroei skoongemaak en is piekniektafels staangemaak sodat lede van die gemeenskap hier kan kuier en mekaar beter leer ken.

Onderskrif: Me Naomi Marais en haar seun Dineo wys vir Conrad Sidego, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, van die plante in haar tuin.

Hierdie Mooiste Lelikste Straat-inisiatief is deel van Sidego se groter Miljoen Bome-projek wat in April 2013 afgeskop het. In effe meer as twee jaar is 21 078 bome in verskeie gebiede in die groter Stellenbosch munisipale gebied geplant. ’n Mens is dus nie verbaas dat Stellenbosch in 2014 met die louere weggestap het as Boomrykste Stad van die Jaar nie.

Hierdie projek ondersteun Sidego se visie vir Stellenbosch as die Innovasiehoofstad. Dié visie berus op vier pilare waarvan Groenste Munisipaliteit en Menswaardige Leefstyl twee van die pilare is.

“Gebiede soos Bishopscourt in die Kaapse metropool en Jonkershoek hier in Stellenbosch is bekend vir hul talle bome,” sê Sidego. “Jy kan jou geensins indink hoe hierdie plekke sonder bome sou lyk nie. Stel jou voor hoe anders woongebiede soos Kayamandi of Khayelitsha sal lyk as derduisende bome daar geplant word. Bome en plante verfraai nie net die omgewing nie. Deur op innoverende wyse die omgewing te vergroen, word ook ’n belegging gemaak in die vergroening van die siel ”

Naomi Marais, ’n inwoner van die straat sê dit is vir haar lekker om nou met haar kinders in die straat te stap.

“Die bome is nog jonk, maar saam met die verskillende plante maak dit reeds ’n groot verskil aan hoe die straat lyk. Ons straat, wat eers baie lelik was, is nou mooi. Dit laat ’n mens goed voel om soveel bome te sien groei waar daar voorheen niks was nie.”

Sy woon saam met haar man Melcho Boonzaaier en hul vier kinders Riveldo (12), Deneo (9), Aida (3) en Menen (3 maande) in die straat. Hul tuin is ’n lushof waar allerlei plante insluitend groente soos boontjies, kool, skorsies en pampoen groei.

“Melcho het nog altyd tuin gemaak, en toe Gerald Esau so ’n jaar gelede gesien het hoe mooi die tuin lyk, het hy gevra of ons nog plante wil hê,” sê Marais.

Esau sê die stukkie grond is gekies omdat daar geen ander groenigheid in die onmiddellike omgewing van die gesin se tuin was nie.

“Mnr Boonzaaier se geesdrif en gewilligheid om ‘n verskil in sy omgewing te maak het ons as munisipaliteit genoodsaak om plante aan hom te verskaf. Met hulp van sy vriende en ander lede uit die gemeenskap het hulle dieselfde dag die omgewing in n paradys omskep,” sê Esau.

Deesdae is daar soveel kos wat in die tuin groei, dat die gesin nie net hulself kan voed nie, maar ook hul oorvloed met die bure kan deel.

“Dit maak my gelukkig dat ons vir mense wat andersins nie kos sou gehad het nie, kan help,” sê Marais.

2