Stellenbosch Municipality

 

Van 11-17 September 2017 is Nasionale Herwinningsweek. As Munisipaliteit gee ons baie aandag aan herwinning en het ons verskeie programme regoor ons munisipale omgewing wat aandag hieraan gee. Herwinning is van kardinale belang omdat Munisipale stortingsterreine regoor die land besig is om vinnig vol te word. Dit is baie moeilik en duur om nuwe geskikte persele te kry wat as stortingsterreine gebruik kan word en die omgewingsimpak daarvan is baie negatief.

As deel van ons herwinningsprogramme maak die Munisipaliteit deurskynende sakke aan inwoners beskikbaar waarin hulle herwinbare materiaal kan weggooi. Dit word dan gesorteer en gebaal by ons mini-herwinningsfasiliteit en daarna vervoer na groot herwinningsentrums. Stellenbosch Munisipaliteit is ook besig om skole by die herwinning te betrek. Die plan is om al ons skole deel te maak van ons herwinningsprogram teen Desember 2017. Die herwinning van huishoudelike afval is op hierdie stadium net beperk tot die Stellenbosch woongebiede, maar almal word aangemoedig om in te skakel by die projek. Ons werk egter daaraan om areas soos Franschhoek, Pniel en Klapmuts by herwinningsprogramme te betrek. In Klapmuts is die Munisipaliteit reeds sedert Mei 2016 besig met die “Swop Shop’’–projek, waar inwoners hul sakke vol herwinbare materiaal bring en ruil vir bruikbare huishoudelike benodighede en/of klere. Die sukses van die Klapmuts “Swop Shop” het gelei dat hierdie konsep sedert Maart 2017 ook die gemeenskappe van Kayamandi en Enkanini dien op ‘n weeklikse basis.

Franschhoek was vanjaar die eerste gebied om gevaarlike huishoudelike afval te versamel en veilig van ontslae te raak of te herwin. Items soos gloeilampe en elektroniese afval word versamel in spesiale staal bokse. Dit word dan veilig herwin of vernietig. Planne om nog van hierdie bokse regoor ons munisipale area te installeer is reeds onderweg.

As deel van Herwinningsweek en om bewustheid te skep oor die veilige weggooi van gevaarlike huishoudelike en elektroniese afval, hou die Munisipaliteit ‘n groot geleentheid op Die Braak op 16 September 2017. Inwoners kan gevaarlike huishoudelike en elektroniese afval bring en inhandig. Die doel hiervan is om te voorkom dat gevaarlike toestelle en gifstowwe in stortingsterreine beland en ‘n onveilige omgewing skep by ons stortingsterreine. Inwoners kan alle afval soos ou rekenaars, selfone en ander elektroniese toestelle, yskaste, wasmasjiene, haardroërs en stukkende elektriese toestelle, asook leë spuitkannetjies, batterye, verf en gloeilampies bring sodat die Munisipaliteit op ‘n veilige en omgewingsvriendelike manier hiervan ontslae kan raak. Die Munisipaliteit sal op Die Braak wees vanaf 09:00 tot 14:00. Inwoners word aangemoedig om asseblief moeite te doen en hul afval te gaan inhandig.

Hierdie is maar enkele voorbeelde van wat ons doen om beter dienste aan ons gemeenskap te lewer asook ‘n positiewe bydrae tot ons omgewing te maak. Ek wil u graag aanmoedig om herwinning in u huis te implementeer. Dit is ‘n klein stap wat ‘n groot verskil maak in die langtermyn vir ons Munisipaliteit en ons planeet.

 

VERKLARING DEUR UITVOERENDE BURGEMEESTER VAN STELLENBOSCH MUNISIPALITEIT – GESIE VAN DEVENTER