Stellenbosch Municipality
Burgemeester van Deventer plant die eerste boom tydens Boomplantdag 2017

 

Stellenbosch is pas aangewys as die 2017 Nasionale Boomstad van die Jaar in die nasionale kompetisie wat jaarliks deur die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, in samewerking met die Instituut vir Omgewing- en Rekreasiebestuur en TOTAL Suid Afrika aangebied word.

Die aankondiging is amptelik gemaak gedurende ‘n prysuitdelingsfunksie in Matatiele in die Oos-Kaap. Die hoofdoel van die kompetisie is om erkenning te verleen aan dorpe en stede vir die uitsonderlike bestuur van groen areas en erfenis. Verdere doelwitte sluit in die uitbreiding van vergroening na voorheen benadeelde gebiede, die ontwikkeling van provinsiale en plaaslike vergroeningsbeplanningsraamwerke asook die nakoming van relevante omgewingswetgewing.

 

‘’Ek is absoluut verheug oor ons toekenning as Bomestad van die Jaar! Dit is ‘n voorreg en bewys dat ons die beste doen in belang van ons gemeenskap”, sê Uitvoerende Burgemeester Gesie van Deventer van Stellenbosch Munisipaliteit.

 

Boomstad 2017 2

Die tema vir hierdie jaar se veldtog en toekenning is Woude en Water. In ‘n tyd waar die breër Stellenbosch, soos die grootste gedeelte van die Wes-Kaap, gebuk gaan onder een van die ergste droogtes in ‘n 100 jaar, is dit belangrik om slim en kreatief te werk met ons groenspasies en water. As munisipaliteit is ons toegewy daartoe om steeds vir ons inwoners groenspasies te voorsien, en al die dorpe binne ons munisipaliteit se karakter wat gekenmerk word deur die bomeprag te beskerm. Ons moet egter ook waterwys wees. Daarom het die Munisipaliteit sy planne met groenspasies die afgelope jaar ook so aangepas om te fokus op die bewaring en aanplant van inheemse plante wat meer gehard en droogte bestand is. As munisipaliteit doen ons baie moeite en word fondse aangewend om indringerplante te verwyder, en so dan ook water te bespaar. Dit is juis vir hierdie tipe projekte en programme waarvoor Stellenbosch Munisipaliteit dan die eerste plek in vanjaar se Bome Stad kompetisie gewen het.

Ter viering van die toekenning en om die afskop van Boomplantdag en –week te vier, het Burgemeester Van Deventer inheemse bome geplant saam met leerders van verskeie skole in Stellenbosch. Gedurende die week sal die Munisipaliteit 250 bome regoor die munisipale area plant wat versorg sal word deur middel van grys water.

Boomstad 2017 3

Burgemeester van Deventer sê “Groen spasies speel toenemend ‘n belangrike rol in die lewens van inwoners, soos stedelike digtheid toeneem. Daarom sal ons as munisipaliteit altyd hard werk om groenspasies beskikbaar te stel vir ons inwoners om te geniet, om bewaring aan te moedig en ons dorpe te verfraai. Toekennings soos hierdie dui op ‘n wenresep wat deur inwoners en ander vlakke van regering erken en waardeer word. Baie dankie aan ons bestuurder van Parke, Albert van der Merwe en sy span wat so hard werk om ons hele area te verfraai en te onderhou.”